Dié ‘nare’ boer het ’n groot hart


Dit ontstel my toenemend as ek in dagblaaie en tydskrifte lees van die “nare” boere wat hul werkers slegs R69 per dag betaal – so of net dié syfer die volledige arbeidsprentjie op ons plase beskryf.

Dié ‘nare’ boer het ’n groot hart

Niemand is verplig om op ’n plaas te werk nie, al klink ’n arbeider se loon vir die buitestander na min. Plaaswerkers doen dit omdat hulle besef hul pakket is veel beter as dorpsbetaling, meen die skrywer.| Foto: Jaco Marais

Ek is een van daardie sogenaamde nare boere wat ’n loon van net meer as die minimum betaal – die laags besoldigde van ons nege werkers verdien R78,50 per dag.

Tog is daar ’n waglys van mense wat eerder by my wil werk as om in ’n plakkerskamp te krepeer of om op die dorp te werk vir ’n werkgewer wat geen van die byvoordele bied wat plaaswerkers kry nie.

So, kom ons kyk bietjie na die omstandighede soos dit op baie plase is en vergelyk dit met wat werkers in dorpe en stede het.

My werkers bly in gratis behuising wat waarskynlik beter is as enige laekoste-huis in Suid- Afrika. Ek het elke sent vir die bou daarvan betaal.

Elke huis het ’n sonverwarmer vir warm water, ’n volledige badkamer met ’n stort en ’n spoeltoilet.

Maar dit tel seker niks?

Ek het met my eie geld meer as ’n kilometer ver water en krag aangelê, opgaartenks opgerig, mangate gegrawe en riool- stelsels gebou om dit alles moontlik te maak.

Boonop is ek my eie dienslewerings-en-instandhoudingsdepartement. Hier is nie ’n munisipaliteit wat jy kan bel as daar ’n probleem is nie. Wanneer daar op ’n Sondagoggend voor kerk nie water by die werkershuise is nie – omdat iemand per ongeluk ’n kraan oopgelaat het – kanselleer ek my kerkbywoning en neem onmiddellik ’n enjin en gaan pomp water sodat my werkers binne ’n kwessie van ’n paar uur water kan kry.

Hier is ook nie ’n munisipale amptenaar wat ’n verstopte toilet kom oopmaak nie – ek doen dit self!

In teenstelling hiermee verstaan ek die naburige dorp sit dikwels tot twee weke sonder lopende water. Met die riolering gaan dit duidelik nie veel beter nie, gemeet aan die onaangename stank wat gereeld oor die dorp hang. Dis so erg dat my plaaswerkers verkies om op hul naweke vry eerder op die plaas (met sy “nare” baas) te bly as om dorp toe te gaan.

Terloops, elke werkershuis op my plaas het ook ’n Fire World-stoof – deur my voorsien – wat in die Vrystaatse winter die hele huis heerlik warm maak. My trekker, wa en gereedskap is gratis beskikbaar vir plaaswerkers om soveel hout as wat hulle wil te gaan bymekaarmaak.

Tel dit nie?

Elke werker kry ook elke oggend twee liter melk gratis vir sy huisgesin se gebruik. As hy dit op die dorp sou moes koop sal dit hom ongeveer R450 per maand uit die sak jaag.

Die plaaslike taxi-man sê hy sal my werkers R800 per maand vra om hul kinders skool toe te ry – ek doen dit gratis.

Ek gaan doen die meeste van my werkers se kruideniersinkopies op die dorp – selfs die battery vir die afstandsbeheerder van die skottel-TV wat ek by elke huis laat installeer het.

Ek ry siek mense, wat nie eens vir my werk nie, dokter toe. My vrou vang babatjies in die nag omdat die ambulans nie opdaag nie. En ek gaan staan selfs elke maand in die ry by die bank om my werker se onderhoud te betaal en ja, ons doen dit ook gratis!

Moet dit nie iets tel nie?

Ek gaan koop selfs die gif vir sy hoenders se luise en verskaf die mielies wat die hoenders eet.

Dan is daar ook die gratis springbokbiltong wat elke huisgesin elke jaar kry, wild wat hulle vang, vrugte uit die boorde en medisyne as hul siek is.

Tel dit ook niks?

’n Inspekteur van die departement arbeid was ongeveer ’n maand gelede hier, aanvanklik baie skepties toe hy hoor wat ek my werkers betaal. Ek het hom uitgedaag om die sommetjie te maak en uiteindelik het ek hom oortuig dat die bykomende “in natura”-verdienste meer as R2 000 per maand beloop. En dit sluit nie eens die koste van die bou of die instandhouding van die huise in nie.

Bowendien is niemand verplig om vir hierdie “nare” boer te werk nie. Hulle doen dit omdat hul besef die totale pakket is ’n beter alternatief as wat hulle in die dorp kry en, meer belangrik, omdat hulle wil.

Dit is hul keuse.

So, asseblief, volgende keer as iemand kla oor die “nare” boer wat slegs R69 per dag betaal, vra hom bietjie uit oor die kilometer kragkabel wat R60 per meter kos. Vra hulle of hulle ’n werkgewer in die stad ken wat al een meter kragkabel vir een van sy werknemers se huis gekoop het.

Nog beter, vra hom of sy werkgewer in die stad ook bereid is om sy verstopte spoeltoilet op ’n Sondagoggend voor kerk te kom oopkrap.

Ten spyte van al die vyandigheid teenoor boere beskryf Van Schalkwyk hom steeds as ’n “baie gelukkige boer en voorsiener van skaapvleis vir die land”. Sy plaas is in die Suid-Vrystaat.

‘Iewers moet ’n ou sny’

Dries van Schalkwyk sê die nuutvasgestelde minimum loon van R105 per dag sal sy salarisrekening met R7 000 per maand of R84 000 per jaar laat toeneem. Terselfdertyd moet hy die skok absorbeer van lamspryse wat nou R14/kg of R490 per lam minder is as ’n jaar gelede. “Op 800 lammers is dit ’n daling van amper R400 000 per jaar, terwyl my loonrekening met R84 000 styg.

“Iewers moet ’n ou sny, so wat doen jy? Jy verminder die werkers.”

Deur Dries van Schalkwyk

Dié ‘nare’ boer het ’n groot hart

Wit plaasarbeiders vir minder as minimum loon aangestel


Werklose wit mans het nou die geleentheid om as arbeiders op plase aangestel te word teen veel minder as die minimum loon – indien hulle bereid is om te werk.

Wit plaasarbeiders vir minder as minimum loon aangestel

Nadat Mildred Oliphant, minister van landbou, verlede week aangekondig het dat die minimum loon vir plaaswerkers vanaf 1 Maart sal styg na R105, het ʼn boer van Limpopo besluit om ʼn plan te maak. Die boer, wat anoniem wil bly, het kontak gemaak met ʼn paar ander boere van regoor die land wat met die hande in die hare is omdat hulle nie dienuwe loon vir plaaswerkers kan bekostig nie. Daarna het hy ʼn advertensie op Facebook geplaas, waarin hy wit mans en vroue nooi om aansoek te doen vir werk op plase, wat “verblyf en ander voordele” insluit.

Volgens die boer is hulle binne enkele dae, en met net ʼn advertensie op Facebook, oorval met aansoeke. “Meer as 500 aansoeke is ontvang,” het hy gesê. “Dit lyk of ons dit gaan regkry om sowat 100 van hierdie mense op plase regoor die land te plaas. Al hierdie mense is bereid om vir heelwat minder as die minimum loon te werk.”

Dié projek was bloot ʼn eksperiment, sê hy, en hulle het glad nie verwag om soveel reaksie te kry nie. Die advertensie was veral gerig op mans in wit plakkerskampe wat graag ʼn inkomste wil verdien.

“Ons het hierdie keer slegs mans aangestel,” het hy gesê. “Indien ons voortgaan met die projek en weer adverteer, sal ons probeer om vroue en kinders saam met die mans na plase te verskuif. Ons wil nie graag gesinne van mekaar skei nie.”

In reaksie op die aankondiging dat die minimum loon vir plaaswerkers na R105 styg, het Agri SA en TLU SA verklarings uitgereik wat daarop dui dat tot sowat 100 000 plaaswerkers hul werk, wat dikwels behuising insluit, kan verloor.

Wit plaasarbeiders vir minder as minimum loon aangestel

Eerste plaaswerkers gepos


Boere gaan masjinerie koop om werkers te vervang, al hoe meer werkloses gaan na die stede stroom en die hoër landboukoste gaan uiteindelik aan die verbruiker deurgegee word.

Eerste plaaswerkers gepos

In Kaapstad het Nils Flaatten, uitvoerende hoof van die Wes-Kaapse handelsbevorderingsagentskap Wesgro, gesê boere en landboumaatskappye gaan begin om meer te meganiseer.

Dít is hoe sakelui die impak beskryf van die minimum loon vir plaaswerkers wat tot R105 per dag verhoog is.

Intussen het die minister van arbeid, Mildred Oliphant, by monde van haar woordvoerder, Musa Zondi, gesê boere moenie oorhaastig optree of werkers onnodig afdank nie.

“Die boere moet eers oor die skok kom en versigtig wees om nie halsoorkop besluite te neem nie,” het Marius van der Westhuizen, voorsitter van die Langkloof Landbougenootskap, gesê.

Tony Ehrenreich, Cosatu se hoofsekretaris in die Wes-Kaap, het ook gesê die vakverbond gaan dophou of boere hul werkers onnodig afdank.

Boere in Limpopo en Noordwes het egter reeds aangedui hulle sal sowat ’n derde van hul werkers moet afdank, blyk uit verklarings van Agri SA en Agri Noordwes.

’n Groep van 28 boere van Levubu het gesê hulle sal 670 van hul 1700 werkers moet afdank, terwyl meer as 700 plaaswerkers in Magoebaskloof en omstreke klaar gehoor het hulle moet loop.

In Kaapstad het Nils Flaatten, uitvoerende hoof van die Wes-Kaapse handelsbevorderingsagentskap Wesgro, gesê boere en landboumaatskappye gaan begin om meer te meganiseer.

Hy verwag stygende voedselpryse, omdat arbeidskoste saam met hoër krag- en brandstofpryse aan verbruikers deurgegee word.

Fred Jacobs, president van die Kaapse Kamer van Handel en Nywerheid, het gesê die loonverhoging van 52% sal verreikende gevolge in enige bedryf hê. “Dit gaan boere dwing om hul boerderymetodes te heroorweeg.”

Hy glo nie meganisering sal onmiddellik plaasvind nie, maar ’n tendens word.

“Die nuwe minimum loon kan dalk ekonomies uitvoerbaar wees in die Wes-Kaap waar die landboubedryf goed ontwikkel is, maar die R105 per dag geld vir die hele land en dit kan baie ernstige gevolge hê in plattelandse streke waar landbou minder intensief en armoede volop is. Die laaste ding wat ons nodig het, is nóg werkloses op die platteland.

“Dit sal beteken meer desperate mense gaan na die stede stroom in die hoop om werk te vind. Dit sal die bestaande maatskaplike probleme in die stede vererger.”

Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi), het gesê die AHi steun die verhoging, want navorsing wys baie plaaswerkers voer ’n sukkelbestaan.

Daar is konsensus dat ondervoede, ongeskoolde en onderbetaalde plaaswerkers die landbou se toekoms bedreig en uit ’n moreel-etiese perspektief ongeregverdig is.

Maar baie opkomende boere het skuld aangegaan om hul boerderye te begin. Die AHi meen die geweldige styging in produksiekoste moet dringend aandag kry.

Frans Cronje, adjunkhoof van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge, het op Twitter gesê hy het met twee landbougroepe gepraat en hulle verwag kleinskaalse en middelslagboere sal vandeesmaand hul personeel met die helfte verminder.

Hy het gesê die getal plaaswerkers het die afgelope dekade met 34% tot 640000 afgeneem. In 2001 het 7,7% van die totale arbeidsmag in die landbousektor gewerk. Verlede jaar was dit 4,7%.

Eerste werkers gepos

Boere se grond sal afgevat word – Tony Ehrenreich


Boere wat weens die 52%-verhoging in die minimum loon wil herstruktureer en plaaswerkers wil aflê, se plase sal afgevat word, het Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse voorsitter van die vakverbond Cosatu, volgens Landbou.com gewaarsku.

There will be blood on the farmers of these farms - Tony Ehrenreich

Tony Ehrenreich

Landbou-unies en landbouleiers het aangedui dat die verhoging van die minimum loon tot R105 per dag onbekostigbaar is en tot werksverliese sal lei.

Ehrenreich het gesê dat boere moet voortgaan om hierdie dreigemente te maak.

Die herstrukturering sal plaasvind, maar deel daarvan sal daartoe lei dat hulle hul plase sal verloor.”

As hulle nie hul grond kan gebruik nie, moet hulle dit verloor en elders heen gaan.

Hy het bygevoeg dat dreigemente van afleggings nie op dowe ore sal val nie en dat een van die gevolge sal wees dat grond van boere wat haaks is, aan “goeie boere” gegee sal word wat die land wil laat werk.

Boere sal grond verloor, sê Ehrenreich

Mynwerkers ruk op teen afleggings


Werkers by Harmony Gold se Kusasalethu-myn beplan om Donderdag te betoog teen afleggings en uitsluiting uit die hostelle.

Mynwerkers ruk op teen afleggings

Volgens die koerant sal die myn na verwagting vir die Desember-kwartaal ‘n bedryfsverlies van R150 miljoen ly en ’n negatiewe kontantvloei van R252 miljoen hê.

Die hekke by die myn is op 3 Januarie gesluit en daar is aan werkers gesê die myn is tot verdere kennisgewing gesluit. Sowat 500 mynwerkers is ook toegang tot die hostel geweier en baie het buite die hekke geslaap.

Die maatskappy het sy bedrywighede aan die einde van Desember gestaak, maar het gesê hy sal steeds die basiese salaris van werkers betaal.

Volgens die maatskappy se webwerf sal sowat 5 200 werknemers geraak word indien die myn permanent sluit.

Business Day het onlangs berig dat werkers tot 7 Maart kans gegee is om hul klagtes uit te sorteer, waarna hulle afgelê sal word.

Graham Briggs, hoof- uitvoerende beampte van die maatskappy, het in ‘n ope brief gewaarsku dat rolspelers 60 dae het om die myn te red.

Luidens die brief is moord, geweld, intimidasie en die skade aan eiendom die rede vir die besluit om bedrywighede by die myn naby Carletonville te staak.

Briggs het aan die koerant gesê geen maatskappy kan in dié soort omgewing bedryf word nie.

‘n Onbeskermde staking by die myn in Oktober en Desember het groot produksieverliese veroorsaak.

Volgens die koerant sal die myn na verwagting vir die Desember-kwartaal ‘n bedryfsverlies van R150 miljoen ly en ’n negatiewe kontantvloei van R252 miljoen hê.

Mynwerkers ruk op teen afleggings

Werksverliese ná pakskuur brand – Wes-Kaap


Sowat 500 werkers kan moontlik werkloos wees nadat ’n groot skuur vir pruime vermoedelik aan die brand gesteek is.

Werksverliese ná pakskuur brand - Wes-Kaap

Talle mense staar nou werkloosheid in die gesig na brandstigting op dié plaas. Foto: VERSKAF

Groot kommer bestaan binne die Wes-Kaapse regering oor die hoë vlakke van intimidasie waaraan plaaswerkers, wat nie aan betogings wil deelneem nie, blootgestel word. Werkers is bang om terug te gaan werk toe, en in verskeie voorvalle is werkers glo aangerand en ernstig beseer.

“Dit is ook baie duidelik dat die betogings wat tans plaasvind nie meer die optrede van plaaswerkers is nie, maar aangevuur word deur opportunistiese misdadigers,” sê mnr. Gerhard van Rensburg, Wes-Kaapse minister van landbou.

Volgens Van Rensburg is die veiligheid van werkers die staat se verantwoordelikheid, en hulle doen alles in hul vermoë om ’n veilige omgewing te skep. Hy het verdere kommer uitgespreek oor die skade wat aan produksie-aanlegte naby Worcester en die Paarl aangerig is. “Dit is onaanvaarbaar dat betogers die bronne van werksgeleenthede, waarvoor hulle na bewering betoog, vernietig.”

500 werksgeleenthede

Die skade wat gely is nadat ’n groot pruimpakskuur op die Sandrivier-landgoed van die Le Roux boerdery-groep naby Wellington gebrand het, kan daartoe lei dat sowat 500 mense hul werk kwyt is.

“Die skade aan die ekonomie en werkskepping in die toekoms is reusagtig,” aldus Van Rensburg. “Die Wes-Kaapse regering sal nie hierdie tipe optrede duld nie en verwerp dit ten sterkste.”

Volgens Van Rensburg sal hulle nou saam met die polisie werk om seker te maak die skuldiges ry aan die pen. “Ons sal ook toesien dat die organisasies waarby die skuldiges geaffilieer is verantwoording doen.”

Die vermoede bestaan dat die skuur aan die brand gesteek is, omdat die sekerheidswagte wat pakskuur en werkers 24 uur per dag oppas, brande wat elders op die plaas voorgekom het, moes gaan blus. Mnr. Gerrit de Beer, finansiële hoof van die Le Roux boerdery-groep, sê etlike miljoene rande se skade is aangerig.

Die partye wat betrokke is, word gevra om deur middel van onderhandelinge oplossings te vind en hulle te distansieer van onwettige aktiwiteite.

Deur ALANI JANEKE – 16 Januarie 2013

Werksverliese ná pakskuur brand

Loondispuut by Dairy Belle-aanleg


’n Gewelddadige loondispuut sleep al byna ses weke voort by Dairy Belle se aanleg op Bloemhof.

Loondispuut by Dairy Belle-aanleg

Sowat 75 000 liter melk is afgeskryf weens dié staking. Foto: ROBERT SOUTHEY

Sewe verdagtes het Woensdag (16 Januarie 2013) in die landdroshof op Bloemhof in Noordwes verskyn op aanklagte van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging na aanleiding van ’n staking by die Dairy Belle-aanleg op die dorp. Die verdagtes is aangekeer nadat een van die onderneming se afleweringsvoertuie Maandag (14 Januarie 2013) met klippe en ’n petrolbom bestook is.

Mnr. Gerhard Oosthuizen, kommersiële direkteur, sê sowat 300 werkers staak by die aanleg. Hulle eis ’n verhoging van 18% en word deur ’n vakbond verteenwoordig.

Luidens ’n polisieverklaring is die vragmotor toegetakel terwyl die bestuurder die aanleg verlaat het ná ’n aflewering. Lede van ’n private sekerheidsmaatskappy het rubberkoeëls afgevuur in ’n poging om die skare uitmekaar te jaag. Volgens die polisie het ’n wettige optog op Woensdag 16 Januarie 2013 na die aanleg plaasgevind. ’n Griefskrif is aan die bestuur oorhandig.

Miljoene se skade

Volgens Oosthuizen het die maatskappy reeds miljoene rande se skade weens die staking gely. Kort nadat die staking begin het, is die paaie rondom die aanleg afgesper en ’n besending van sowat 75 000 liter melk moes afgeskryf word. Die maatskappy moes ’n hofbevel kry om stakers te verhinder om paaie te versper.

Op 21 Desember is ’n pakhuis aan die brand gesteek. Die skade was tussen R5 miljoen en R10 miljoen. Weens die staking kon verskeie aflewerings nie betyds gedoen word nie. Oosthuizen sê die verliese as gevolg daarvan kon nog nie bepaal word nie.

“Ons is veral bekommerd oor die voortslepende aanvalle met klippe en petrolbomme. Gister (Dinsdag 15 Januarie 2013) is twee petrolbomme oor die muur gegooi. Al ons voertuie word nou ook deur private sekerheidsbeamptes vergesel wanneer hulle die aanleg verlaat,” sê Oosthuizen.

Deur ALANI JANEKE – 16 Januarie 2013

Loondispuut by Dairy Belle-aanleg

Vakbondleier, ANC manne, Ex-Vakbondbase…


Vakbondleier, ANC manne, Ex-Vakbondbase… die hele lot het hul vingers in die paai in die Boland! Hierdie staking is bes moontlik NIKS anders as om die boere te ondergrawe terwyl hulle lag-lag die verhogings kan betaal – met ONS belastingeld! …lees gerus hier!

Nosey Pieterse is die sekretaris van Bawusa, maar is ter selfde tyd die Voorsitter van Lindiwe Wyne wat hul druiwe kry van plase rondom Robertson, waar die lone maar tussen R63 en R75 per dag is.

Die Nasionale Bemagtigingsfonds (dis nou ons belasting) het R3 MILJOEN gegee om Lindiwe Wyne op die been te bring.

Die vakbond Bawusa, deel kantore met BAWASI (Black Association of the Wine and Spirit Industry) wie se doelwit dit is om Swart eienaarskap in die Wynbedryf te bevorder. Die einste Nosey Pieterse is toevallig ook die president van BAWASI!

BAWASI ontvang R200 000 per maand van die SA Wynbedryf Trust wat weer sy fondse ontvang van die Wynsektor-kapitaliste (WOSA). BAWASI is deel van Phetogo Investments, wat ‘n BEE kapitaliste groep is met ‘n 27% aandeel in KWV.

BAWASI en Phetogo het ‘n lening van R120 MILJOEN ontvang van die IDC (nog belastingeld), R40 MILJOEN van SAWIT (The Wine Bosses Trust) en R40 MILJOEN van KWV self.

Hierdie manne het oorgenoeg spaargeld om oproer aan die gang te hou!

Die Voorsitter van KWV is Marcel Golding, wat voorheen die Adjunkvoorsitter van NUM (National Union of Mineworkers) was.

Een van die direkteure van KVW is Johny Copelyn, wat voorheen die Sekretaris van Cosatu se Tekstiel-vakbond, SACTWU, was.

HCI was grotendeels opgerig met fondse van die Tekstielbedryf se erg uitgebuite werkers en besit ‘n 35% aandeel in KWV. …dus is Ex Cosatu-manne nou kapitaliste in die Wynsektor! A BETTER LIFE FOR ALL ja…

Voorts besit Tokyo Sexwale nou Bloemendal en Oude Kelder en Vali Moosa besit Paardenkloof…

…laat ‘n mens nogal met ander oë na die stakery kyk!

BronVakbondleier, ANC manne, Ex-Vakbondbase…

Wes-Kaap – ‘Ons leef in vrees’


Eergisteroggend voor eerste lig al was Tshepang Thatheng – die voorman op ’n plaas by Ceres waar met appels, perskes en ­pere geboer word – wakker en vasbeslote om te gaan werk.

In die dorp het hy naby die polisiekantoor gestaan en wag vir die plaasvragmotor wat hom sou oppik.

Maar die stakers het geweier dat hy werk.

“Ek het my boer gebel en gesê hy moenie die lorrie vandag stuur nie. Intussen het ’n taxi wat deur die stakers met klippe bestook is, omgedraai en op die mense begin skiet,” beduie Tshepang.

Sy regterarm swaai soos hy verduidelik.

Trane loop uit die hoeke van sy oë.

Twee uur later het hy bloeiend by die Ceres-hospitaal aangekom met ’n koeël in sy linkerhand: die prys wat hy betaal het vir sy besluit om te werk.

“As ons nie gaan werk nie…Daar is baie mense in Nduli wat werk soek,” sê hy.

Sy oë is nou toe.

Op plase in Ceres, Wolseley, De Doorns en ander dorpe in die Wes-Kaap se landbou-hartland het woedende skares die afgelope week klippe na die polisie gegooi, maar hul eintlike teikens was plaaswerkers soos Tshepang wat geweier het om aan dié onbeskermde staking deel te neem.

Verslae werkers by Pine Valley in Wolseley het aan Rapport vertel hoe hulle een vir een uit hul Hop-huise gedwing is deur stakers, waarvan sommiges klapmusse gedra het.

“Uit! Of ons brand julle huise af,” het hulle gedreig.

Jack* is ’n masjienoperateur op ’n graan-, perske- en peerplaas by Wolseley en woon in Pine Valley.

Jack is “gatvol” vir oproerigheid en intimidasie.

Hy vertel van ’n ou man met ’n rooi broek – dis die rooi wat hom bybly – wat die vorige aand deur die polisie gered is nadat stakers hom getakel het.

Hy is later in die streekhospitaal gevind.

“In Montana (in Wolseley) werk hulle nog heeltyd. Ek kon Woensdag laas werk,” vertel Jack.

“Dis rassisme. Montana is ’n bruin gemeenskap.”

Werkende plaaswerkers wys die vinger na opstokers in hul buurte; nie naastenby almal wat staak, is plaaswerkers nie.

Boere eggo dié aantyging.

Die stakers vra R150 per dag teenoor die R69 per dag wat die wetlike minimum loon is, hoewel die meeste werkers heelwat meer as dit verdien.

Jack kry R110 per dag.

“Sê nou die loon word R150.

“Gaan mense soos ek wat my oor die jare opgewerk het nou dieselfde as almal kry? Of moet die boer vir ons nóg meer betaal? Hulle gaan nie. Ek wil nie eens daaraan dink dat ek my werk kan verloor nie.”

Selfs diegene mét werk leef hier gevaarlik naby aan die ­honger.

Aaron* woon ook in Pine Valley en organiseer werkers op ’n plaas waar perskes, pere en pruime verbou word.

Daar sou die oggend weer moeilikheid op pad plaas toe wees, is hulle gewaarsku.

Sy vrou het hom senuagtig aangekyk: Hul drie kinders moet skool toe volgende week.

Albei ouers is plaaswerkers. Hulle kort dié loon.

Om 05:30 hang die mis swaar buite hul deur.

Of is dit rook van die vorige dag se brandende motorbande?

Aaron vat soetjies ompaaie werk toe verby die “sassamakers” wat die begraafplaas patrolleer.

Hulle is ’n bende jong swart mans wat met klippe en sambokke die vorige aand die bejaarde plaaswerker (met die rooi broek) op pad huis toe ernstig aangerand het.

“Hierdie staking is ’n opstand oor plaaswerkers wat wil werk en wat daarvoor aangerand word. Hoekom moet ek vrees vir my gesin en ons huis vir R150?” vra Aaron.

Later, op pad huis toe, kom ons saam met Jack op die brug na Pine Valley vir Hester* teë, ’n werker met vier kinders by haar.

Sy vermoed daar is roll call gehou om seker te maak niemand werk nie.

“Hulle deursoek mense wat oor die brug kom se inkopiesakke. As jou werkklere daarin is, het jy moeilikheid,” sê Hester.

Sy wil nie staak nie, maar sal nie nee sê vir ’n R150-loon nie.

Dis dalk te veel vir die boere, maar vir ’n plaaswerker is dit die verskil tussen onder die broodlyn en asemhaal.

“Met R69 kan jy nie jou kinders universiteit toe stuur nie.

“Met R150 kan jy ’n polis van so R200 – R300 uitneem. Dan kan jou kind universiteit toe én jy het kos,” sê sy.

* Name is op versoek van die plaaswerkers verander om hul identiteit te beskerm.

Bron‘Ons leef in vrees’

Lone: Werkers én boere kom nie uit


“Sapa het berig Tony Ehrenreich het in Worcester gesê die stakende plaaswerkers sal onderhandel tot minstens R110 per dag.”

In ’n nuwe verslag wat die lone in die landboubedryf ontleed met die oog op ’n nuwe sektorale vasstelling word ’n onuithoubare balanseertoertjie vir boere én plaaswerkers onthul.

Volgens navorsing van die Universiteit van Stellenbosch en die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (Bfap) in Pretoria kan boere nie meer as R104 per dag as loon bekostig nie.

Tog is die R150-loon wat die plaaswerkers in die Wes-Kaap tans eis nie genoeg vir ’n gebalanseerde dieet nie.

Sou die loon tot R150 verhoog word, sal die landbousektor se vergoedingsrekening met 53% toeneem.

Die verslag is Dinsdag bekend gemaak.

Die navorsingspan onder leiding van dr. Ferdi Meyer het gevind die gemiddelde loon vir seisoenale plaaswerkers is R84,90 per dag.

Die huidige sektorale vasstelling bepaal R69 as dagloon.

As die loon met R10 per dag verhoog word, sal ’n tipiese aartappelplaas se koste met R25 783 per hektaar per jaar styg.

Teen R150 meer per dag word die koste per hektaar R291?247 meer.

Hierdie verslag om die sektore te ontleed is deel van die aanvanklike ooreenkoms tussen Agri SA en die koalisie vir die stakers.

Die verslag toon die meeste bedrywe kan ’n toename tot sowat R104 per dag absorbeer, maar dit gaan beteken dat die skuif na meganisasie versnel. Sapa het eergisteraand berig Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse sekretaris van Cosatu, het in Worcester gesê die stakende plaaswerkers sal onderhandel tot minstens R110 per dag.

Wat die navorsers die “werkersdilemma” noem, is dat selfs R150 per dag vir die meeste arm huishoudings van vier nie genoeg is vir genoeg kos nie.

Die koste van ’n daaglikse bord kos vir so ’n gesin beloop R460 per maand.

Deur Sune Kitshoff

BronLone: Werkers én boere kom nie uit

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 224 other followers

%d bloggers like this: