Werksverliese ná pakskuur brand – Wes-Kaap


Sowat 500 werkers kan moontlik werkloos wees nadat ’n groot skuur vir pruime vermoedelik aan die brand gesteek is.

Werksverliese ná pakskuur brand - Wes-Kaap

Talle mense staar nou werkloosheid in die gesig na brandstigting op dié plaas. Foto: VERSKAF

Groot kommer bestaan binne die Wes-Kaapse regering oor die hoë vlakke van intimidasie waaraan plaaswerkers, wat nie aan betogings wil deelneem nie, blootgestel word. Werkers is bang om terug te gaan werk toe, en in verskeie voorvalle is werkers glo aangerand en ernstig beseer.

“Dit is ook baie duidelik dat die betogings wat tans plaasvind nie meer die optrede van plaaswerkers is nie, maar aangevuur word deur opportunistiese misdadigers,” sê mnr. Gerhard van Rensburg, Wes-Kaapse minister van landbou.

Volgens Van Rensburg is die veiligheid van werkers die staat se verantwoordelikheid, en hulle doen alles in hul vermoë om ’n veilige omgewing te skep. Hy het verdere kommer uitgespreek oor die skade wat aan produksie-aanlegte naby Worcester en die Paarl aangerig is. “Dit is onaanvaarbaar dat betogers die bronne van werksgeleenthede, waarvoor hulle na bewering betoog, vernietig.”

500 werksgeleenthede

Die skade wat gely is nadat ’n groot pruimpakskuur op die Sandrivier-landgoed van die Le Roux boerdery-groep naby Wellington gebrand het, kan daartoe lei dat sowat 500 mense hul werk kwyt is.

“Die skade aan die ekonomie en werkskepping in die toekoms is reusagtig,” aldus Van Rensburg. “Die Wes-Kaapse regering sal nie hierdie tipe optrede duld nie en verwerp dit ten sterkste.”

Volgens Van Rensburg sal hulle nou saam met die polisie werk om seker te maak die skuldiges ry aan die pen. “Ons sal ook toesien dat die organisasies waarby die skuldiges geaffilieer is verantwoording doen.”

Die vermoede bestaan dat die skuur aan die brand gesteek is, omdat die sekerheidswagte wat pakskuur en werkers 24 uur per dag oppas, brande wat elders op die plaas voorgekom het, moes gaan blus. Mnr. Gerrit de Beer, finansiële hoof van die Le Roux boerdery-groep, sê etlike miljoene rande se skade is aangerig.

Die partye wat betrokke is, word gevra om deur middel van onderhandelinge oplossings te vind en hulle te distansieer van onwettige aktiwiteite.

Deur ALANI JANEKE – 16 Januarie 2013

Werksverliese ná pakskuur brand