Onteien grond – ANC Jeugliga


Die ANC-jeugliga, het ‘n beroep op die regering gedoen om grond wat onwettig gedurende die apartheidsjare verkry is, sonder vergoeding te onteien, het RSG Sondag berig.

Jeugliga maak stem dik oor stakings, grond

Die waarnemende president, Ronald Lamola, het by ‘n ANC byeenkoms in Prins Alfred Hamlet in die Boland ook gesê plaaswerkers moet hulle daarvoor beywer om self plase te besit.

Hy sê plaaswerkers in die Wes-Kaap moenie ophou met die stryd vir ‘n dagloon van minstens R150 per dag nie en moet hulle ook beywer vir aandele in die plase waarop hulle werk sodat hulle kan deel in die winste.

Lamola het gepraat by ‘n byeenkoms om ondersteuning vir die ANC te werf voor ‘n tussenverkiesing Woensdag in die Witzenberg-munispaliteit.

Prins Alfred Hamlet is een van die gebiede wat deur die onlangse plaaswerkerstaking geraak is.

Jeugliga maak stem dik oor stakings, grond

Advertisements

Zuma verhaas grondhervorming


Grondhervorming gaan verhaas word om so gou moontlik meer landbougrond in die hande van swart Suid-Afrikaners te plaas.

Dié belofte is gister deur pres. Jacob Zuma in Durban gemaak in sy 8 Januarie-toespraak tydens die ANC se 101ste bestaansjaarvieringe.

Zuma het ook klem gelê op die transformasie van myne en die “wit” oorheersde ekonomie om armoede, werkloosheid en ongelykheid te verminder.

Die Kingspark-stadion met 55 000 sitplekke het behoorlik uit sy nate gebars toe ANC-ondersteuners reeds van vroegoggend die gietende reënweer getrotseer en die stadion in ’n see van geel, groen en swart omgetower het.

Hooggeplaastes soos adj.pres. Kgalema Motlanthe, die ANC se nuwe adjunk, Cyril Ramaphosa, die res van die nuutverkose topleiers, senior ministers en talle ander politici het die verrigtinge bygewoon.

Motlanthe, wat voortaan ook hoof sal wees van die party se politieke skool, is luidrugtig verwelkom.

Nie een van die voorste ANC-lede wat saam met hom in Mangaung die onderspit in leiersposte gedelf het, is opgemerk nie.

Volgens Zuma was die Wet op Grond van 1913 – presies 100 jaar gelede – die begin van alle probleme wat vandag in Suid-Afrika ondervind word, soos “grondloosheid, armoede en ongelykheid”.

“Grond is van swart mense weggevat om hulle in ’n reservoir van goedkoop arbeid te omskep.”

Zuma het gesê die Polokwane-resolusie dat 30% van die 82 miljoen ha landbougrond tans in wit besit teen 2014 aan swart eienaars moet behoort, gaan weens die slakkegang van grondhervorming nie realiseer nie.

“Ons het die regering opdrag gegee om die proses op ’n klomp maniere te bespoedig. Die instelling hiervan sal egter die Grondwet respekteer.

“Ons gaan die beginsel van gewillige koper/gewillige verkoper, wat nie die grondhervormingsprobleem doeltreffend gepak het nie, vervang deur ’n regverdiger beginsel: onteiening van grond vir hervormingsdoeleindes.”

Zuma het gesê die regering gaan vanjaar die afsnydatum vir grondeise van 1913 heropen, sodat nasate van die San- en Khoi-mense wat hul grond voor 1913 verloor het, dit ook nou kan terugeis.

“Ons doen ’n beroep op samewerking tussen diegene wat grond benodig en dié wat dit beskikbaar moet stel, sodat die teikens wat vir grondhervorming gestel is, bereik kan word.”

Die regering sal meer plek skep vir die deelname van swart Suid-Afrikaners en vroue aan die ekonomie, het hy gesê.

Deur Llewellyn Prince

BronZuma verhaas grondsake

Grond(e) vir magstryd


Die regering se grond­-herverdelingsproses wat in 1998 begin is, sal onthou word as een van die mees koste-ondoeltreffende ondernemings wat ’n regering nog aangepak het, skryf Willie Spies.

’n Verbete grondstryd speel op Pretoria se agterstoep af.

Plakkers Wallmannstal - Pretoria

’n Plakkershut in aanbou by Wallmannstal. Die erwe word onwettig vir tussen R400 en R500 verkoop. Foto: Alet Pretorius

By Wallmannstal, skaars 15 km noord van die Kolonnade-winkelsentrum en ’n hanetree van die bekende Ludwig’s Roses-plaas, het tot 2 000 plakkers hul skuilings die laaste paar maande in die Buffelsdrift-natuurreservaat gaan staan maak.

Hulle is plakkers met ’n verskil. Hulle is nie dakloos, arm of selfs werkloos nie.

Sedert middel Januarie daag hulle met luukse motors en dubbelkajuitbakkies op om sinkskuilings op te rig op die voormalige militêre terrein wat opsy gesit is vir oordrag na die Wallmannstal Communal Property Association (WCPA).

Baie van die besetters gaan woon nie op die grond nie; die skuilings word net opgerig en daar gelos.

AfriForum het vasgestel dat mnr. Richard Makhene, ’n voormalige korrupte polisiekaptein, en sy volgelinge “erwe” teen R400 stuk aan die besetters verkoop.

Verlede week het AfriForum die WCPA gehelp om ’n hooggeregshofbevel te verkry om die bankrekeninge waarin die kooppryse inbetaal is, te laat bevries.

Makhene het ná sy afdanking uit die polisie met ’n politieke stryd begin om die oordrag van grond aan wie hy as die regmatige aanspraakmakers beskou, te bespoedig.

Só het die sporadiese grondbesetting verlede jaar begin en in Januarie ’n klimaks bereik.

Die staat sleep egter sy voete met die uitvoering van hofbevele wat verkry is teen die onwettige besetters.

Die polisie van Hammanskraal wat Makhene se gesag steeds nie-amptelik aanvaar, weier weer om die hofbevele uit te voer wat die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming verkry het.

Die staat se onoortuigende optrede teen onwettige besettings laat die vraag ontstaan waarom die staat nie sy eie wette toepas nie.

Die groenskrif op grondhervorming wat verlede jaar gepubliseer is en binnekort tot ’n witskrif gaan ontwikkel, lig die sluier oor die staat se onoortuigende optrede:

“National sovereignty is defined in terms of land.”

Hierdie kort sin uit die groenskrif se inleidende paragraaf som heel veelseggend die onderliggende filosofie van die regering se grondhervormingsagenda op.

Nasionale soewereiniteit word deur grondbesit bepaal, glo die ANC, maar nie net die ANC nie. Hierdie begrip is ook ’n onderliggende uitgangspunt van die volkstaat-idee.

Wyle prof. Carel Boshoff het tereg gesê “die grondvraag is die grondvraag”.

Op ’n verrassende manier stem Afrikaniste en Afrikanernasionaliste dus saam oor die belang van grondbesit vir die toekomstige gang van die politiek.

Vir albei is grond nie net ’n kommoditeit of ’n produksiefaktor nie, maar ’n bepalende faktor vir die toekomstige magsverhoudings in Suid-Afrika Afrikaners het 175 jaar gelede op soek na vryheid – en grond – die binneland ingetrek.

Die stryd om grond en die gepaardgaande botsings aan die Kaapse oosgrens en die Britse ko­loniale bewind se inkonsekwente hantering van die grondvraagstuk was immers ’n vername rede vir die Groot Trek.

Grond was ook die onderwerp van die traktaat tussen Piet Retief en die Zoeloekoning Dingaan wat onderteken is kort voordat Retief en sy geselskap uitgemoor is.

Sedertdien het die struwelinge – maar ook die skikkings – tussen Afrikaners en plaaslike inboorlingstamme telkens tot grondgeskille gelei.

Die stryd om grond in Suid-Afrika het egter tot dusver onbeslis gebly. In 1913 en weer in 1936 het genl. J.B.M. Hertzog swart grondbesit en grondbestuur in Suid-Afrika probeer kodifiseer.

Onder leiding van dr. H.F. Verwoerd is van 1948 tot 1966 gepoog om die sogenaamde trustgebiede, of reservate, soos dit voorheen bekend gestaan het, met staatkundige gesag van beperkte selfregering en uiteindelik onafhanklikheid te beklee.

Maar die idee van afsonderlike vryheid vir swart volkere het nie op die duur aanklank gevind by aktiviste vir een-mens-een-stem-regering in Suid-Afrika nie.

Deeglik bewus van die getalsoorwig van swart Suid-Afrikaners en ook weens die vernederende praktyke wat dikwels met klein apartheid gepaard gegaan het, het ANC- en PAC-leiers deurgaans daarop aangedring dat Suid-Afrika ’n onverdeelde land moet wees en die land se verskillende volkere in een sogenaamd verenigde nasie saamgevoeg moet word.

Vandag is Suid-Afrika inderdaad ’n onverdeelde land. Die bewindhebbers kies gerieflikheidshalwe om daarop te hamer dat net 13% van die land se grond in swart besit is.

Hierdie syfer dateer natuurlik van genl. Hertzog se 1936-syfers en neem nie in ag dat miljoene hektaar grond in staatsbesit of die besit van swartbemagtigingsmaatskappye is of sedert 1998 aan swart grondeisers oorgedra is nie.

Die grondherverdelingsproses wat in 1998 begin is, sal onthou word as een van die mees koste-ondoeltreffende ondernemings wat ’n regering nog aangepak het.

Trouens, as al die geld wat die staat die afgelope 13 jaar bestee het aan sy begroting vir grondhervorming, bymekaargetel word, kon al die geëiste grond al vir die markprys gekoop en oorgedra gewees het.

Maar die geld het in ’n bodemlose put van burokrasie, korrupsie en blote ondoeltreffendheid beland.

Telkens soek die huidige bewind die medisyne vir sy eie ondoeltreffendheid op die verkeerde plek. Dit is asof ’n selfgeskepte mislukking gebruik word om die weg te baan vir ’n meer sosialistiese agenda.

Die groenskrif op grondhervorming verklaar voorts in sy inleidende paragraaf: “Even without it being en- shrined in the country’s supreme law, the Constitution, land is a national asset.”

Die groenskrif maak dus daarvoor voorsiening dat grond (net soos minerale en water) ’n “nasionale bate is”;

Daar word voorsien dat private eiendomsreg voortaan bloot “vrypag” gaan wees;

Staatsgrond sal nie meer in private besit oorgedra word nie, maar net by wyse van “huurpag” aan individue en gemeenskappe beskikbaar gestel word;

Streng beperkings sal geplaas word op buitelanders se regte op Suid-Afrikaanse grond; en

’n “Grondbestuurskommissie”, ’n onheilspellende nuwe burokratiese struktuur, word in die vooruitsig gestel.

Die kommissie sal uitgebreide magte hê om titelaktes te verifieer en selfs nietig te verklaar; om enige grondeienaar te dagvaar om verantwoording te doen oor die gebruik van sy grond; en om grond wat na sy oordeel op ’n korrupte of bedrieglike wyse verkry is, namens die staat te konfiskeer.

2012 sal dus die jaar wees waarin Suid-Afrika hierdie ingrypende inbreuke in die land se beproefde stelsel van eiendomsreg moet oorweeg en indien moontlik moet afweer.

Grondeienaars en die sakegemeenskap sal hulle moet voorberei op aktiewe openbare deelname oor die groenskrif – en die witskrif wat nou in die vooruitsig gestel word – en die burgerlike samelewing sal hom moet voorberei op die moeder van alle regstryde om eiendomsreg in stand te hou.

Die eerste toets vir hierdie regstryd sal die appèlhof en die konstitusionele hof se hantering van die landbougroep AgriSA se saak van minerale onteining wees.

As die regering slaag met sy argument dat hy nie die houers van minerale regte hoef te vergoed vir die onteiening van alle minerale regte nie, sal die tafel gedek wees vir ’n soortgelyke hantering van eiendomsreg op grond.

Hoe dit ook al sy, die vraag na grond, meer bepaald die politieke en private beheer oor grond, sal in 2012 en die jare daarna die kernvraagstuk van die Afrikaner en Suid-Afrika se toekoms wees.

deur Willie Spies

Willie Spies is AfriForum se regsverteenwoordiger.

Bron – Grond(e) vir magstryd

%d bloggers like this: