Gun my ook ruimte


Die ANC se resep vir nasiebou werk nie. Jy kan nie van een sportbyeenkoms na die ander strompel en dit dan nasiebou noem nie, skryf Pieter Mulder, VF Plus-leier.

Gun my ook ruimte

Soveel verskillende identiteite in een land.

‘Praat jy Suid-Afrikaans?” het ’n Amerikaanse joernalis my onlangs in ’n onderhoud gevra. Hy het die oggend in Suid-Afrika aangekom en duidelik geen huiswerk oor die land gedoen nie.

Toe ek aan hom verduidelik dat Afrikaans my eerste taal is en dat my voorvaders in 1680 hier aangekom het, lank voordat die meeste Amerikaners in die VSA aangekom het, was sy volgende vraag: “Hoeveel mense in Suid-Afrika praat dan Suid-Afrikaans?”

Tydens die onderhandelinge in 1995 plaas die grondwetskrywende vergadering ’n koerantadvertensie wat lui: “Suid-Afrika: 20 miljoen vroue; 18 miljoen mans; 8 gelowe; 25 kerkgroepe; 31 kultuurgroepe; 14 tale; 9 rassegroepe; 1 land.”

Soveel verskillende identiteite in een land.

“Nasiebou” en “sosiale kohesie” word daarom in amper elke politieke toespraak gebruik. Hoe presies die nasie gebou moet word, verskil van spreker tot spreker.

Beskik ons in Suid-Afrika oor die regte resep vir nasiebou? Ek sê nee. Die ANC se huidige resep werk nie. Jy kan nie van een internasionale sportbyeenkoms na die volgende strompel en dit dan nasiebou noem nie.

Hoekom het nasiebou in Europa geslaag, maar in verskeie Afrika-lande misluk? In Europa was nasiebou makliker omdat die meeste mense in ’n land dieselfde taal praat en kultuur deel.

Toe die Europese lande Afrika onder hulle verdeel het, is mense van verskillende taalgroepe kunsmatig in een land saamgegooi.

In hierdie Afrika-state is daar nie een taal en kultuur om vir nasiebou te gebruik nie. As alternatief is die weerstand teen die Europese oorheersers as nasiebouresep gebruik.

Omdat die Europese “base” teruggegaan het Europa toe, het dit goed gewerk om mense so saam te snoer teen ’n gemeenskaplike afwesige vyand.

Hierdie Afrika-resep kan nie in Suid-Afrika werk nie. Oudpres. Nelson Mandela het dit besef. Daarom het hy uitgereik na Afrikaners en ander wit mense wat geen ander land het waarheen hulle kan terugkeer nie. Om hulle tot vyande te verklaar is die Malema-resep wat verdeel en polariseer. Telkens wanneer die ANC in die moeilikheid is, word die Malema-resep nader getrek deur sommige leiers. Dan word die wit mense, die Afrikaners of die boere as die oorsaak van die probleme en as vyand geïdentifiseer.

Wat is die ANC se huidige resep? Dit is ’n kombinasie van die Malema-resep en die ou Britse assimilasie­resep.

Met assimilasie probeer die meerderheid die minderhede insluk. Tydens die Anglo-Boereoorlog skryf die Britse onderwysminister aan lord Milner oor die Afrikanerkinders in die konsentrasiekampe: “We must appeal to England, and ask the sisters and daughters of those who have been fighting for the Empire to come out and complete that part of the work which their male relatives are unable to accomplish?.?.?. I feel that the opportunity during the next year of getting them all to speak English and become Englishmen is golden.”

“Daar word van die minderheid verwag om deel van die meerderheid te word,” het dr. Nkosazana-Dlamini Zuma verlede jaar op die beraad oor sosiale kohesie aan Afrikaanssprekendes gesê.

Alexis de Tocqueville het minder­hede se dilemma korrek opgesom: “?.?.?. hulle kan net deel van die meerderheid word as hulle die dinge laat vaar wat werklik vir hulle belangrik is” (soos hul taal en kultuur).

Die prys vir aanvaarding, volgens hierdie resep, is dat minderhede juis die sake wat vir hulle kosbaar is en wat hul identiteit bepaal, moet opoffer. Hierdie resep lei tot konflik en sweep groepe op teenoor mekaar.

Waar die groot verskeidenheid identiteite in Suid-Afrika ons ryker en sterker behoort te maak, word die verskille nou verdelende faktore.

So ’n verdelende faktor is die afdwing van een taal in Suid-Afrika.

Dr. Neville Alexander, voormalige Robbeneiland-gevangene en PAC-aktivis, het soos volg hierop gereageer:
“ ’n Engels-alleen-beleid vonnis die meeste mense tot permanente middelmatigheid omdat hulle nie spontaan, kreatief en selfversekerd kan wees as hulle nie hul eerste taal kan gebruik nie.”

Op Afrika-kongresse wat ek bywoon, praat hulle oor die slegte koloniale tyd, maar die bespreking is in die koloniale tale. Europa het ’n ander resep. Die Europese Unie en parlement het 23 werktale. As Europa die Afrika-patroon sou volg waar die oorspronklike koloniseerder se taal gebruik word, sou Latyn as die oorspronklike taal van die ou Romeinse Ryk die taal van die EU gewees het!

’n Tweede verdelende faktor is die benadering dat nasiebou afgedwing kan word.

Die titel van die fliek Invictus kom van ’n gedig wat Mandela in die tronk vir inspirasie gebruik het. Volgens die gedig kan jy enigiets met my doen, maar jy kan nie my denke met wette of geweld verander nie.

Dit lyk of die huidige ANC geen les daaruit geleer het nie.

Louis Botha was een van die helde ná die Anglo-Boereoorlog met sy pogings om Britse imperialisme in Suid-Afrika te keer. Die Britse owerhede het die Zoeloekoning Dinuzulu in 1908 in die tronk gegooi.

Een van die eerste goed wat Louis Botha in 1910 as nuwe eerste minister gedoen het, was om opdrag te gee dat hy vrygelaat word. Vandag staan Dinuzulu en Louis Botha se standbeelde ter erkenning hiervan langs mekaar in Durban.

Elke keer as ek in Pretoria verby die straatnaamveranderinge ry en sien hoe die ANC ’n rooi streep deur Louis Botha se naam getrek het, is ek opnuut kwaad. Ek beleef dit as die miskenning van my helde en geskiedenis. Nasiebou kan op geen manier op mense afgedwing word nie. As dit nie ’n vrywillige proses van alle deelnemers is nie, slaag dit nie.

Die regte nasiebouresep is om die verskillende identiteite as ’n bate te beskou en te erken. Daardeur skep jy ’n situasie waar almal soos wenners voel en daar geen verloorders is nie. “Ons kan lief wees vir wie en wat ons is sonder om te haat wie en wat ons nie is nie,” het Kofi Annan dit goed opgesom.

Ek vra ruimte om myself in Afrika te wees. Dat daar ook ’n plek vir my, my taal en erkenning aan my helde sal wees. Is dit te veel gevra?

Die voorwaarde is dat ons wat ná uhuru in Afrika agtergebly het, ons identiteit moet vind in ons verhouding met Afrika.

Prof. Doehring van die Max Planck-instituut in Duitsland het hul Europese navorsing hieroor soos volg opgesom: “Dit is duidelik dat die nasies en volke van Europa nie omgee om deel te word van die groter Europese vrugteslaai nie mits elkeen toegelaat word om sy identiteit te behou as of ’n piesang of ’n lemoen in die vrugteslaai.”

“Die stam moet sterf vir die nasie om te leef,” was die mislukte resep in baie Afrikastate. Vandag is baie van hierdie “nasies” dood, maar die stamme baie lewendig.

Ons keuses:
– Die Malema-verdeelresep of die Mandela-uitreikresep;
– Die mislukte Afrika-assimilasieresep of die suksesvolle Europese resep.

Ek kies die Europese resep waar alle identiteite met wedersydse respek waardeer word en deur wette, minderheidsregte en selfbeskikking geakkommodeer word.

– Dr. Mulder is ook adjunkminister van landbou, bosbou en visserye.

Gun my ook ruimte

Advertisements

Realiteit wys reënboognasies werk nie


Werk die Reënboognasie rêrig?

Sedert 1994 is daar meer rassehaat onder etniese groepe as ooit vantevore.

Geen multikulturele land werk regtig nie, want selfs kanselier Angela Merkel van Duitsland het onder meer in Oktober 2010 gesê dat haar Duitse multikulturele omgewing gefaal het.

Nicolas Sarkozy, die gewese president van Frankryk, en David Cameron, eerste minister van Brittanje, het dit in Februarie verlede jaar beaam. Ook ander lande se staatshoofde het dit erken.

Almal se gevolgtrekking is dat dit tot ekstreme dade lei en haat onder mense met kultuurverskille aanwakker.

Hoekom glo Suid-Afrika se multi-volkere en -kulture dat dit gaan werk?

Ons moet na realiteite begin kyk. Tale word misken, kultuurskatte word vernietig en só raak die lys oneindig omdat ’n sekere kultuurgroep sy visie en idees vooropstel ten koste van die ander kultuurgroepe in Suid-Afrika.

Die Khoisanvolk word die ergste misken deur almal. Histories was hy eerste hier.

Die Afrikaner het die land gebring tot ’n ekonomiese reus in Afrika, maar sy geskiedenis, taal en kultuur word om elke hoek en draai vernietig, asook die infrastruktuur, waarop Moeletsi Mbeki en Bantu Holomisa in onlangse skrywes in Rapport gewys het.

Bruin mense en Indiese gemeenskappe word ook nou eenkant geskuif omdat hulle nie meer onder die “African”-vaandel val nie.

Selfs onder die swart volke is daar kultuurverskille, maar die media en die regering hou dit geheim. Daar is van hierdie volksgroepe wat glo hulle vind geen baat by die Nuwe Suid-Afrika nie.

Talle ander Afrikalande kan as voorbeelde dien, waar kulturele en etniese verskille tot jare lange burgeroorloë gelei het.

Maak nie saak watter volk in beheer is nie, daar sal altyd rasse-onmin wees.

Volke en kultuurgemeenskappe moet nie saamgegooi word nie, want dit lei tot verdeling en haat onder mekaar.

Hulle moet oor hul eie sake self regeer, soos dit ook vervat is in die brief van Willie Rheeder op 22 Februarie 2012 met die opskrif “Konfederasie in SA nodig vir volke om te oorleef”.

Deur Francois Cloete, Florauna

BronRealiteit wys reënboognasies werk nie

%d bloggers like this: