Grondbeleid ‘kan ANC tot val bring’


Die regering se grondbeleid en onsekerheid in die landbou- bedryf kan die ANC die verkiesing in 2019 kos, het Frans Cronjé, uitvoerende adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasverhoudinge, gesê.

“As jy die regering uit die kussings wil lig, is die kortste pad om dit te doen om hul grondbeleid te steun.

“Ons sien wat die tendens is; grond wat onteien word val uit produksie uit. Produksie val, aanvraag styg, voedselpryse styg en indien die toelaes wat aan miljoene Suid-Afrikaners uitbetaal word nie saam met inflasie styg nie, word hulle ál armer.

“Protesaksie en ongelukkigheid skiet die hoogte in en as dit aanhou, plaas dit die ANC onder genoeg druk om ’n toekomstige verkiesing te verloor.”

Cronjé het Vrydag in Muldersdrift op ’n konferensie van die ad hoc-komitee vir die beskerming van eiendomsreg gepraat.

Dr. Pieter Mulder, adjunkminister van landbou, het op dieselfde konferensie gesê onsekerheid kan daartoe lei dat Suid-Afrika se landbou inmekaartuimel.

Vyftien jaar gelede het die land 60 000 kommersiële boere gehad.

Vandag is daar slegs 37 000, het Mulder gesê.

“27 Afrika-lande het reeds amptelike versoeke gerig om Suid-Afrikaanse landbouers te kry om daar te boer. Tans is daar reeds meer Suid-Afrikaanse kommersiële landbouers in Afrika as in die Limpopo-provinsie.”

Hy het gesê sowat 1 000 Suid-Afrikaners boer in Mosambiek, 400 in Zambië, 360 in Botswana, 60 in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) en 40 in Nigerië.

“Vanjaar is die eerste jaar wat Zambië nie mielies uit Suid-Afrika invoer nie, maar hul eie mielies uitvoer. Suid-Afrikaners wat in ander lande boer, is goed vir die ontwikkeling van Suider-Afrika, maar daar kom ’n punt waar dit so erg word dat jou eie landbou inmekaar kan stort.”

Portugal het ook onlangs by Agri SA kom aanklop om hulp en ’n afvaardiging van Agri SA sal Portugal binnekort besoek om die boerdery-moontlikheid vir Suid-Afrikaners te ondersoek.

Mulder het gesê onsekerheid moet dringend uit die weg geruim word om Suid-Afrika se landbou te beskerm. “Ondubbelsinnige regeringsuitsprake en -besluite is hiervoor nodig. Daarmee kan verhoed word dat die SA landbou in duie stort en te veel landboukundigheid Suid-Afrika verlaat.”

Landbou-tydbom

Geen werk vir Blankes in Johannesburg – ANC


“Ons staan aan die begin van die nuwe finansiële jaar in die Johannesburg Metro en die Uitvoerende Burgemeester, Parks Tau (ANC) het dit baie duidelik gemaak dat geen werk vir wittes geskep sal word nie en dat die ANC sy Swart Ekonomiese Bemagtiging-strategie aggressief sal navolg”, het Franco de Lange, VF+ Hoofsweep in die Johannesburg metro gesê.

Geen werk vir Blankes in Johannesburg - ANC

Die uitlating spruit uit die vrae wat Rdl de Lange al vyf keer in die Raad gevra het oor ‘n periode van drie jaar. In die vorige termyn van 2006 tot 2011 het die stad se EPWP projekte 165 000 korttermyn werksgeleenthede geskep waar jong mense sekere vaardighede kon leer om hulle vir die privaatsektor voor te berei.

Die VF+ het ‘n voorstel ter tafel gelê dat die stad vir elke tien swart aanstelings, een blanke in diens kan neem maar die ANC het geen belangstelling getoon nie.

Raadslid de Lange het beklemtoon dat armoede regoor die kleurgrens strek en dat werkskepping nie net na die een kant toe kan plaasvind nie.

Hy het ook ‘n dringende beroep op die regering gedoen dat dit nou hoog tyd is om van regstellende aksie ontslae te raak want dit veroorsaak rassespanning tussen Suid-Afrikaners.

ANC Sê GEEN WERK VIR WITTES IN JOHANNESBURG

Gun my ook ruimte


Die ANC se resep vir nasiebou werk nie. Jy kan nie van een sportbyeenkoms na die ander strompel en dit dan nasiebou noem nie, skryf Pieter Mulder, VF Plus-leier.

Gun my ook ruimte

Soveel verskillende identiteite in een land.

‘Praat jy Suid-Afrikaans?” het ’n Amerikaanse joernalis my onlangs in ’n onderhoud gevra. Hy het die oggend in Suid-Afrika aangekom en duidelik geen huiswerk oor die land gedoen nie.

Toe ek aan hom verduidelik dat Afrikaans my eerste taal is en dat my voorvaders in 1680 hier aangekom het, lank voordat die meeste Amerikaners in die VSA aangekom het, was sy volgende vraag: “Hoeveel mense in Suid-Afrika praat dan Suid-Afrikaans?”

Tydens die onderhandelinge in 1995 plaas die grondwetskrywende vergadering ’n koerantadvertensie wat lui: “Suid-Afrika: 20 miljoen vroue; 18 miljoen mans; 8 gelowe; 25 kerkgroepe; 31 kultuurgroepe; 14 tale; 9 rassegroepe; 1 land.”

Soveel verskillende identiteite in een land.

“Nasiebou” en “sosiale kohesie” word daarom in amper elke politieke toespraak gebruik. Hoe presies die nasie gebou moet word, verskil van spreker tot spreker.

Beskik ons in Suid-Afrika oor die regte resep vir nasiebou? Ek sê nee. Die ANC se huidige resep werk nie. Jy kan nie van een internasionale sportbyeenkoms na die volgende strompel en dit dan nasiebou noem nie.

Hoekom het nasiebou in Europa geslaag, maar in verskeie Afrika-lande misluk? In Europa was nasiebou makliker omdat die meeste mense in ’n land dieselfde taal praat en kultuur deel.

Toe die Europese lande Afrika onder hulle verdeel het, is mense van verskillende taalgroepe kunsmatig in een land saamgegooi.

In hierdie Afrika-state is daar nie een taal en kultuur om vir nasiebou te gebruik nie. As alternatief is die weerstand teen die Europese oorheersers as nasiebouresep gebruik.

Omdat die Europese “base” teruggegaan het Europa toe, het dit goed gewerk om mense so saam te snoer teen ’n gemeenskaplike afwesige vyand.

Hierdie Afrika-resep kan nie in Suid-Afrika werk nie. Oudpres. Nelson Mandela het dit besef. Daarom het hy uitgereik na Afrikaners en ander wit mense wat geen ander land het waarheen hulle kan terugkeer nie. Om hulle tot vyande te verklaar is die Malema-resep wat verdeel en polariseer. Telkens wanneer die ANC in die moeilikheid is, word die Malema-resep nader getrek deur sommige leiers. Dan word die wit mense, die Afrikaners of die boere as die oorsaak van die probleme en as vyand geïdentifiseer.

Wat is die ANC se huidige resep? Dit is ’n kombinasie van die Malema-resep en die ou Britse assimilasie­resep.

Met assimilasie probeer die meerderheid die minderhede insluk. Tydens die Anglo-Boereoorlog skryf die Britse onderwysminister aan lord Milner oor die Afrikanerkinders in die konsentrasiekampe: “We must appeal to England, and ask the sisters and daughters of those who have been fighting for the Empire to come out and complete that part of the work which their male relatives are unable to accomplish?.?.?. I feel that the opportunity during the next year of getting them all to speak English and become Englishmen is golden.”

“Daar word van die minderheid verwag om deel van die meerderheid te word,” het dr. Nkosazana-Dlamini Zuma verlede jaar op die beraad oor sosiale kohesie aan Afrikaanssprekendes gesê.

Alexis de Tocqueville het minder­hede se dilemma korrek opgesom: “?.?.?. hulle kan net deel van die meerderheid word as hulle die dinge laat vaar wat werklik vir hulle belangrik is” (soos hul taal en kultuur).

Die prys vir aanvaarding, volgens hierdie resep, is dat minderhede juis die sake wat vir hulle kosbaar is en wat hul identiteit bepaal, moet opoffer. Hierdie resep lei tot konflik en sweep groepe op teenoor mekaar.

Waar die groot verskeidenheid identiteite in Suid-Afrika ons ryker en sterker behoort te maak, word die verskille nou verdelende faktore.

So ’n verdelende faktor is die afdwing van een taal in Suid-Afrika.

Dr. Neville Alexander, voormalige Robbeneiland-gevangene en PAC-aktivis, het soos volg hierop gereageer:
“ ’n Engels-alleen-beleid vonnis die meeste mense tot permanente middelmatigheid omdat hulle nie spontaan, kreatief en selfversekerd kan wees as hulle nie hul eerste taal kan gebruik nie.”

Op Afrika-kongresse wat ek bywoon, praat hulle oor die slegte koloniale tyd, maar die bespreking is in die koloniale tale. Europa het ’n ander resep. Die Europese Unie en parlement het 23 werktale. As Europa die Afrika-patroon sou volg waar die oorspronklike koloniseerder se taal gebruik word, sou Latyn as die oorspronklike taal van die ou Romeinse Ryk die taal van die EU gewees het!

’n Tweede verdelende faktor is die benadering dat nasiebou afgedwing kan word.

Die titel van die fliek Invictus kom van ’n gedig wat Mandela in die tronk vir inspirasie gebruik het. Volgens die gedig kan jy enigiets met my doen, maar jy kan nie my denke met wette of geweld verander nie.

Dit lyk of die huidige ANC geen les daaruit geleer het nie.

Louis Botha was een van die helde ná die Anglo-Boereoorlog met sy pogings om Britse imperialisme in Suid-Afrika te keer. Die Britse owerhede het die Zoeloekoning Dinuzulu in 1908 in die tronk gegooi.

Een van die eerste goed wat Louis Botha in 1910 as nuwe eerste minister gedoen het, was om opdrag te gee dat hy vrygelaat word. Vandag staan Dinuzulu en Louis Botha se standbeelde ter erkenning hiervan langs mekaar in Durban.

Elke keer as ek in Pretoria verby die straatnaamveranderinge ry en sien hoe die ANC ’n rooi streep deur Louis Botha se naam getrek het, is ek opnuut kwaad. Ek beleef dit as die miskenning van my helde en geskiedenis. Nasiebou kan op geen manier op mense afgedwing word nie. As dit nie ’n vrywillige proses van alle deelnemers is nie, slaag dit nie.

Die regte nasiebouresep is om die verskillende identiteite as ’n bate te beskou en te erken. Daardeur skep jy ’n situasie waar almal soos wenners voel en daar geen verloorders is nie. “Ons kan lief wees vir wie en wat ons is sonder om te haat wie en wat ons nie is nie,” het Kofi Annan dit goed opgesom.

Ek vra ruimte om myself in Afrika te wees. Dat daar ook ’n plek vir my, my taal en erkenning aan my helde sal wees. Is dit te veel gevra?

Die voorwaarde is dat ons wat ná uhuru in Afrika agtergebly het, ons identiteit moet vind in ons verhouding met Afrika.

Prof. Doehring van die Max Planck-instituut in Duitsland het hul Europese navorsing hieroor soos volg opgesom: “Dit is duidelik dat die nasies en volke van Europa nie omgee om deel te word van die groter Europese vrugteslaai nie mits elkeen toegelaat word om sy identiteit te behou as of ’n piesang of ’n lemoen in die vrugteslaai.”

“Die stam moet sterf vir die nasie om te leef,” was die mislukte resep in baie Afrikastate. Vandag is baie van hierdie “nasies” dood, maar die stamme baie lewendig.

Ons keuses:
– Die Malema-verdeelresep of die Mandela-uitreikresep;
– Die mislukte Afrika-assimilasieresep of die suksesvolle Europese resep.

Ek kies die Europese resep waar alle identiteite met wedersydse respek waardeer word en deur wette, minderheidsregte en selfbeskikking geakkommodeer word.

– Dr. Mulder is ook adjunkminister van landbou, bosbou en visserye.

Gun my ook ruimte

Twee verdagtes vas vir Parys-moorde in Vrystaat


Twee mense is Woensdag in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n bejaarde paartjie op die plaas Somerset naby Parys in die Vrystaat, het die Valke gesê.

Twee verdagtes vas vir Parys-moorde in Vrystaat

“’n Man en ‘n vrou is Woensdagmiddag by Zambala langs Sasolburg in hegtenis geneem in verband met die moord,” het kapt. Paul Ramaloko gesê.

“’n Man en ‘n vrou is Woensdagmiddag by Zambala langs Sasolburg in hegtenis geneem in verband met die moord,” het kapt. Paul Ramaloko gesê.

Hulle was in besit van items wat aan die slagoffers behoort het, insluitend ‘n selfoon.

Die man (30) en vrou (46) sal Vrydag in die Parys-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en diefstal, het Ramaloko gesê.

Die polisie in die Vrystaat het Dinsdag gesê die paartjie se lyke is in ‘n snoepwinkel wat hulle uit ‘n motorhuis op die plaas bestuur het gevind.

“Die man se lyk is op die grond in die snoepwinkel gevind, met sy voete wat vasgebind was en ‘n materiaalsak oor sy kop,” het kol. Thandi Mbambo gesê.

Die vrou se lyk is in ‘n kisvrieskas gevind.

Geen sigbare beserings kon op die lyke gevind word nie,” het Mbambo gesê.

Die slagoffers se lyke is na die staatslykhuis geneem waar nadoodse ondersoeke gedoen sal word om die oorsaak van hul dood te bepaal.

Die polisie sê ‘n huishulp het Dinsdag om 07:30 by die huis opgedaag en het gevind dat die huis geplunder was.

Die vrou het na die paartjie gesoek, maar kon hulle nie vind nie.

‘n Buurpersoon het ook opgedaag om te help soek, totdat hulle in die snoepwinkel gevind is.

Ramaloko sê die motief vir die moord is onbekend en ondersoeke duur voort.

Twee verdagtes vas vir Vrystaat-moorde

Mediese fondse gaan sneuwel in 2013


Mediese fondse sal in 2013 stygende koste en groter mededinging die hoof moet bied, sê Neels Barendrecht, voorsitter van Agility Global Health Solutions.

“Dié wat gaan oorleef, sal innoverende maniere moet uitdink om hul lede nog beter te bedien,” sê hy.

Van die tendense wat hy in 2013 verwag, sluit in:

Toenemende koste en meer verantwoordelikhede vir lede

Volgens hom gaan mediese koste in die komende jaar weer verhoog word deur gevorderde tegnologie soos biologiese medisyne, die erger wordende siektelas, tekort aan vaardighede, ’n tekort aan mededinging onder private hospitale en spesialiste, asook die dekking van voorgeskrewe minimum voordele (VMV’s).

In reaksie op hoër koste gaan Suid-Afrikaanse mediese fondse waarskynlik die internasionale tendens volg waar groot koste soos hospitalisasie gedek word, maar nie die dag-tot-dag-uitgawes soos fisioterapie en sielkundige behandeling nie.

“Hoewel dit sin maak vanuit ’n koste-perspektief, kan dit negatief vir die stelsel wees omdat dié behandeling dikwels voorkomende voordele het,” sê hy.

“ ’n Lid wat gereeld vir fisioterapie gaan, kan dit byvoorbeeld voorkom om later ’n duur knie-operasie te moet ondergaan.”

Die meeste fondse het reeds spaarrekeninge wat baie van die verantwoordelikheid van daaglikse sorg op die lid afskuif. Lede wil dan nie die voordele gebruik nie of die voordele is nie genoeg nie en dit lei tot ’n sieker bevolking.

“Dit is die mediesefondsbedryf se regulatoriese model wat fokus op genesende sorg (pleks van voorkomende sorg) wat daartoe bydra dat gesondheidsorgkoste styg,” sê hy.

Al hoe meer samesmeltings in die mediesefondsbedryf

Barendrecht sê daar gaan einde 2013 waarskynlik nog minder mediese fondse wees waaruit mense kan kies omdat die kostedruk en skaalekonomieë wat bereik moet word al hoe meer samesmeltings tot gevolg het. “Dit kan beter wees om minder mediese fondse te hê met beter versekeringspoele wat in ’n sterker posisie is om namens lede met gesondheidsorgverskaffers oor pryse te onderhandel, maar dit is steeds belangrik dat lede kan kies tussen fondse en produkte wat by hul behoeftes pas.”

Volgens hom is daar “te veel groter, maar nie noodwendig beter, gevallestudies” in die bedryf. Hy meen verskillende nismarkte moet op grond van hul spesifieke behoeftes bedien kan word.

Beleidsrigting van die regering gesoek

Fondse sal meer besonderhede soek van die regering se plan met nasionale gesondheidsversekering (NGV). Die volgende regeringsdokument oor die NGV word in April verwag. Barendrecht hoop dit gaan meer duidelikheid verskaf sodat die private gesondheidsbedryf beter kan beplan.

VMV’s gaan opnuut in oënskou geneem word omdat dit ’n groot aandrywer van koste in die bedryf geword het. Mediese fondse word verplig om die behandeling van 270 mediese toestande in hospitale en 26 chroniese toestande (wat omskryf word in die chroniese-siektelys) asook noodgevalle te dek.

Barendrecht sê VMV’s beteken die goedkoopste opsie wat mediese fondse sal kan aanbied, sal tussen R400 en R570 per maand kos. “Dit maak private gesondheidsorg vir die meeste Suid-Afrikaners onbekostigbaar.”

Hy sê fondse kan hul koste verminder as daar vaste tariewe vir VMV-behandeling was, eerder as wat mediese fondse moet betaal teen watter prys die verskaffer ook al vra. “Dit sal help as daar ’n meer beperkte lys van VMV-behandelings is of as VMV’s onderhewig is aan meer beperkte voordele.”

Tegnologie gaan ’n mededingingsvoordeel bied

Namate fondse die stryd voer teen koste en om lede te lok, gaan dié wat in die jongste tegnologie belê het die vrugte pluk.

“In ’n bedryf waar fondse nie lede op grond van hul versekeringsprofiel mag belas nie, is een van die enigste maniere om koste af te bestuur sonder om voordele erg te verminder, streng protokols vir behandeling en om die risiko met die hulp van tegnologie te bestuur,” verduidelik hy. Protokols vir behandeling verseker laer koste, beter behandeling vir pasiënte asook beter gesondheidsresultate wat vir kort- en langtermynbesparings vir ’n skema sorg.

Vaardigheidstekorte

’n Tekort aan vaardighede in die gesondheidsberoepe, van verpleërs tot dokters en spesialiste, gaan in 2013 ’n voortgesette impak op die gehalte en koste van gesondheid­sorgverskaffing in die private en die openbare sektor hê. Mediese fondse sal steeds die moeilike balans moet handhaaf om die verskaffers van mediese dienste billik te vergoed en steeds hul lede se geldsake te beskerm.

“Om in bedryf te bly, moet fondse toenemend die rol van ’n hekwagter speel om dit goedkoper te maak vir lede om hul huisdokter en ander primêregesondheidverskaffers te besoek en toegang tot spesialiste te beheer,” sê Barendrecht.

Hy meen daar sal ’n kopskuif onder mediesefondslede plaasvind as hulle sien dat hul gesondheidsdekking meer bekostigbaar kan wees as hulle kies om net toegang tot sekere dokters of hospitaalnetwerke te kry. “In 2013 gaan ons waarskynlik toenemende innovasie sien met fondse wat maniere ondersoek om koste vir hul lede te verminder.”

Bron – Mediese fondse gaan sneuwel in 2013

Wyn-boikot kan 300 000 poste kos


Kaapstad – Die plaaslike wynbedryf kan ten gronde gaan en derduisende mense werkloos laat as ‘n ANC-voorstel om Suid-Afrikaanse wyne te boikot, vrugte afwerp, het Landbou.com berig.

“Dit sal ’n enorme impak hê. Ek kan net nie sien dat daar 300 000 mense in die strate moet rondloop nie. Dit kan net nie gebeur nie!”

Só sê Beyers Truter, voorsitter van die Pinotage-vereniging, oor die moontlikheid dat Suid-Afrika se wynbedryf verwoes kan word.

Volgens Truter word dié aantal mense net in die Wes-Kaap deur dié bedryf onderhou.

Hy sê ’n boikot van die bedryf gaan beteken dat ’n boer nie ’n inkomste kan genereer nie, wat op die ou end sal beteken dat hy nie sy werkers kan betaal nie.

Volgens berigte is stakers tans besig om chaos op Swellendam te veroorsaak en dat paaie na die dorp toegemaak is.

Dit volg nadat die staking ná Woensdag se geweld, tydelik opgeskort is.

Bron – Wyn-boikot kan 300 000 poste kos

Grond(e) vir magstryd


Die regering se grond­-herverdelingsproses wat in 1998 begin is, sal onthou word as een van die mees koste-ondoeltreffende ondernemings wat ’n regering nog aangepak het, skryf Willie Spies.

’n Verbete grondstryd speel op Pretoria se agterstoep af.

Plakkers Wallmannstal - Pretoria

’n Plakkershut in aanbou by Wallmannstal. Die erwe word onwettig vir tussen R400 en R500 verkoop. Foto: Alet Pretorius

By Wallmannstal, skaars 15 km noord van die Kolonnade-winkelsentrum en ’n hanetree van die bekende Ludwig’s Roses-plaas, het tot 2 000 plakkers hul skuilings die laaste paar maande in die Buffelsdrift-natuurreservaat gaan staan maak.

Hulle is plakkers met ’n verskil. Hulle is nie dakloos, arm of selfs werkloos nie.

Sedert middel Januarie daag hulle met luukse motors en dubbelkajuitbakkies op om sinkskuilings op te rig op die voormalige militêre terrein wat opsy gesit is vir oordrag na die Wallmannstal Communal Property Association (WCPA).

Baie van die besetters gaan woon nie op die grond nie; die skuilings word net opgerig en daar gelos.

AfriForum het vasgestel dat mnr. Richard Makhene, ’n voormalige korrupte polisiekaptein, en sy volgelinge “erwe” teen R400 stuk aan die besetters verkoop.

Verlede week het AfriForum die WCPA gehelp om ’n hooggeregshofbevel te verkry om die bankrekeninge waarin die kooppryse inbetaal is, te laat bevries.

Makhene het ná sy afdanking uit die polisie met ’n politieke stryd begin om die oordrag van grond aan wie hy as die regmatige aanspraakmakers beskou, te bespoedig.

Só het die sporadiese grondbesetting verlede jaar begin en in Januarie ’n klimaks bereik.

Die staat sleep egter sy voete met die uitvoering van hofbevele wat verkry is teen die onwettige besetters.

Die polisie van Hammanskraal wat Makhene se gesag steeds nie-amptelik aanvaar, weier weer om die hofbevele uit te voer wat die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming verkry het.

Die staat se onoortuigende optrede teen onwettige besettings laat die vraag ontstaan waarom die staat nie sy eie wette toepas nie.

Die groenskrif op grondhervorming wat verlede jaar gepubliseer is en binnekort tot ’n witskrif gaan ontwikkel, lig die sluier oor die staat se onoortuigende optrede:

“National sovereignty is defined in terms of land.”

Hierdie kort sin uit die groenskrif se inleidende paragraaf som heel veelseggend die onderliggende filosofie van die regering se grondhervormingsagenda op.

Nasionale soewereiniteit word deur grondbesit bepaal, glo die ANC, maar nie net die ANC nie. Hierdie begrip is ook ’n onderliggende uitgangspunt van die volkstaat-idee.

Wyle prof. Carel Boshoff het tereg gesê “die grondvraag is die grondvraag”.

Op ’n verrassende manier stem Afrikaniste en Afrikanernasionaliste dus saam oor die belang van grondbesit vir die toekomstige gang van die politiek.

Vir albei is grond nie net ’n kommoditeit of ’n produksiefaktor nie, maar ’n bepalende faktor vir die toekomstige magsverhoudings in Suid-Afrika Afrikaners het 175 jaar gelede op soek na vryheid – en grond – die binneland ingetrek.

Die stryd om grond en die gepaardgaande botsings aan die Kaapse oosgrens en die Britse ko­loniale bewind se inkonsekwente hantering van die grondvraagstuk was immers ’n vername rede vir die Groot Trek.

Grond was ook die onderwerp van die traktaat tussen Piet Retief en die Zoeloekoning Dingaan wat onderteken is kort voordat Retief en sy geselskap uitgemoor is.

Sedertdien het die struwelinge – maar ook die skikkings – tussen Afrikaners en plaaslike inboorlingstamme telkens tot grondgeskille gelei.

Die stryd om grond in Suid-Afrika het egter tot dusver onbeslis gebly. In 1913 en weer in 1936 het genl. J.B.M. Hertzog swart grondbesit en grondbestuur in Suid-Afrika probeer kodifiseer.

Onder leiding van dr. H.F. Verwoerd is van 1948 tot 1966 gepoog om die sogenaamde trustgebiede, of reservate, soos dit voorheen bekend gestaan het, met staatkundige gesag van beperkte selfregering en uiteindelik onafhanklikheid te beklee.

Maar die idee van afsonderlike vryheid vir swart volkere het nie op die duur aanklank gevind by aktiviste vir een-mens-een-stem-regering in Suid-Afrika nie.

Deeglik bewus van die getalsoorwig van swart Suid-Afrikaners en ook weens die vernederende praktyke wat dikwels met klein apartheid gepaard gegaan het, het ANC- en PAC-leiers deurgaans daarop aangedring dat Suid-Afrika ’n onverdeelde land moet wees en die land se verskillende volkere in een sogenaamd verenigde nasie saamgevoeg moet word.

Vandag is Suid-Afrika inderdaad ’n onverdeelde land. Die bewindhebbers kies gerieflikheidshalwe om daarop te hamer dat net 13% van die land se grond in swart besit is.

Hierdie syfer dateer natuurlik van genl. Hertzog se 1936-syfers en neem nie in ag dat miljoene hektaar grond in staatsbesit of die besit van swartbemagtigingsmaatskappye is of sedert 1998 aan swart grondeisers oorgedra is nie.

Die grondherverdelingsproses wat in 1998 begin is, sal onthou word as een van die mees koste-ondoeltreffende ondernemings wat ’n regering nog aangepak het.

Trouens, as al die geld wat die staat die afgelope 13 jaar bestee het aan sy begroting vir grondhervorming, bymekaargetel word, kon al die geëiste grond al vir die markprys gekoop en oorgedra gewees het.

Maar die geld het in ’n bodemlose put van burokrasie, korrupsie en blote ondoeltreffendheid beland.

Telkens soek die huidige bewind die medisyne vir sy eie ondoeltreffendheid op die verkeerde plek. Dit is asof ’n selfgeskepte mislukking gebruik word om die weg te baan vir ’n meer sosialistiese agenda.

Die groenskrif op grondhervorming verklaar voorts in sy inleidende paragraaf: “Even without it being en- shrined in the country’s supreme law, the Constitution, land is a national asset.”

Die groenskrif maak dus daarvoor voorsiening dat grond (net soos minerale en water) ’n “nasionale bate is”;

Daar word voorsien dat private eiendomsreg voortaan bloot “vrypag” gaan wees;

Staatsgrond sal nie meer in private besit oorgedra word nie, maar net by wyse van “huurpag” aan individue en gemeenskappe beskikbaar gestel word;

Streng beperkings sal geplaas word op buitelanders se regte op Suid-Afrikaanse grond; en

’n “Grondbestuurskommissie”, ’n onheilspellende nuwe burokratiese struktuur, word in die vooruitsig gestel.

Die kommissie sal uitgebreide magte hê om titelaktes te verifieer en selfs nietig te verklaar; om enige grondeienaar te dagvaar om verantwoording te doen oor die gebruik van sy grond; en om grond wat na sy oordeel op ’n korrupte of bedrieglike wyse verkry is, namens die staat te konfiskeer.

2012 sal dus die jaar wees waarin Suid-Afrika hierdie ingrypende inbreuke in die land se beproefde stelsel van eiendomsreg moet oorweeg en indien moontlik moet afweer.

Grondeienaars en die sakegemeenskap sal hulle moet voorberei op aktiewe openbare deelname oor die groenskrif – en die witskrif wat nou in die vooruitsig gestel word – en die burgerlike samelewing sal hom moet voorberei op die moeder van alle regstryde om eiendomsreg in stand te hou.

Die eerste toets vir hierdie regstryd sal die appèlhof en die konstitusionele hof se hantering van die landbougroep AgriSA se saak van minerale onteining wees.

As die regering slaag met sy argument dat hy nie die houers van minerale regte hoef te vergoed vir die onteiening van alle minerale regte nie, sal die tafel gedek wees vir ’n soortgelyke hantering van eiendomsreg op grond.

Hoe dit ook al sy, die vraag na grond, meer bepaald die politieke en private beheer oor grond, sal in 2012 en die jare daarna die kernvraagstuk van die Afrikaner en Suid-Afrika se toekoms wees.

deur Willie Spies

Willie Spies is AfriForum se regsverteenwoordiger.

Bron – Grond(e) vir magstryd

%d bloggers like this: