‘Dis nou anders’


Beeld het besoek afgelê by pensioentrekkers en ander inwoners van die woonbuurte Vrededorp (onder inwoners bekend as Fietas) en Jan Hofmeyr (Jan Bom) in Johannesburg.Die meeste is werkloos of ontvang ’n karige staatspensioen. Nelius Rademan het die foto’s geneem.

‘Op die oomblik is daar nie ’n toekoms nie.

Maar ek sê dankie in die oggend en ek sê dankie in die aand.”

Dít was die woorde van Alet Parsons (61) van Jan Hofmeyr drie dae nadat sy in haar huurkamer in munisipale behuising ingetrek het.

Die pensioentrekkers wat hier woon, sê die plek het die laaste paar jaar verander. Daar is oral misdaad en dwelms.

Die meeste van die huise is verwaarloos, met lae baksteenmure of doringdraad wat die erwe omhein. By elke huis waar Beeld aangeklop het, was daar minstens een hond.

Ella Rudolph (51) woon al langer as 40 jaar in Vrededorp.

“Dit was baie nice toe ek grootgeword het. Ons kan nie meer in die straat loop nie. Ek kan nie ná ses winkel toe gaan nie, want hulle wag vir jou op die hoek.
“Hulle het al drie fone van my geneem.”

Vol asblikke staan in Gousblomstraat en die reuk van verrotting hang swaar in die lug.

Hierdie vullis moes al die vorige dag verwyder gewees het, sê Nico Hattingh, wat by die Jan Hofmeyr-gemeenskapsprojek betrokke is.

Dit gebeur dikwels dat dit nie verwyder word nie, voeg Rudolph by.

“Jy moet die asblik net so vuil inbring, anders steel hulle hom. Dit was altyd baie skoon hier.”

Sylvia Patrick (50) woon die afgelope 23 jaar in Fietas.

“Dit was altyd stil hier. Jy kon laataand in die strate loop en jou deure ooplos. Nou is hier meer dwelms en sjebiens.

“Ons leef nou ’n lewe van vrees.”

Osman Cassiem van die DA is die nuutverkose raadslid vir wyk 58, waaronder Vrededorp, Pageview, Fordsburg en Mayfair onder meer val.

Hy beoog om misdaad te probeer bekamp deur saam met die polisie te werk om patrollies meer sigbaar te maak.

Hy is bewus van die probleme met die vullisverwydering, sê hy.

“Ek probeer op hul rug sit om my wyk skoon te hou. Dié wyk is die afgelope 18 jaar afgeskeep.

“Die mense verdien beter dienslewering as wat hulle tans kry.”

Bron‘Dis nou anders’