Grondbeleid ‘kan ANC tot val bring’


Die regering se grondbeleid en onsekerheid in die landbou- bedryf kan die ANC die verkiesing in 2019 kos, het Frans Cronjé, uitvoerende adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasverhoudinge, gesê.

“As jy die regering uit die kussings wil lig, is die kortste pad om dit te doen om hul grondbeleid te steun.

“Ons sien wat die tendens is; grond wat onteien word val uit produksie uit. Produksie val, aanvraag styg, voedselpryse styg en indien die toelaes wat aan miljoene Suid-Afrikaners uitbetaal word nie saam met inflasie styg nie, word hulle ál armer.

“Protesaksie en ongelukkigheid skiet die hoogte in en as dit aanhou, plaas dit die ANC onder genoeg druk om ’n toekomstige verkiesing te verloor.”

Cronjé het Vrydag in Muldersdrift op ’n konferensie van die ad hoc-komitee vir die beskerming van eiendomsreg gepraat.

Dr. Pieter Mulder, adjunkminister van landbou, het op dieselfde konferensie gesê onsekerheid kan daartoe lei dat Suid-Afrika se landbou inmekaartuimel.

Vyftien jaar gelede het die land 60 000 kommersiële boere gehad.

Vandag is daar slegs 37 000, het Mulder gesê.

“27 Afrika-lande het reeds amptelike versoeke gerig om Suid-Afrikaanse landbouers te kry om daar te boer. Tans is daar reeds meer Suid-Afrikaanse kommersiële landbouers in Afrika as in die Limpopo-provinsie.”

Hy het gesê sowat 1 000 Suid-Afrikaners boer in Mosambiek, 400 in Zambië, 360 in Botswana, 60 in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) en 40 in Nigerië.

“Vanjaar is die eerste jaar wat Zambië nie mielies uit Suid-Afrika invoer nie, maar hul eie mielies uitvoer. Suid-Afrikaners wat in ander lande boer, is goed vir die ontwikkeling van Suider-Afrika, maar daar kom ’n punt waar dit so erg word dat jou eie landbou inmekaar kan stort.”

Portugal het ook onlangs by Agri SA kom aanklop om hulp en ’n afvaardiging van Agri SA sal Portugal binnekort besoek om die boerdery-moontlikheid vir Suid-Afrikaners te ondersoek.

Mulder het gesê onsekerheid moet dringend uit die weg geruim word om Suid-Afrika se landbou te beskerm. “Ondubbelsinnige regeringsuitsprake en -besluite is hiervoor nodig. Daarmee kan verhoed word dat die SA landbou in duie stort en te veel landboukundigheid Suid-Afrika verlaat.”

Landbou-tydbom