Villiers-boer sterf ná plaasaanval


Jannie du Plessis, die boer van Villiers wat op 6 Januarie geskiet en saam sy vrou ure lank in ‘n kluis toegesluit is, is Vrydagaand oorlede.

Villiers-boer sterf ná plaasaanval

Jannie du Plessis

Du Plessis se seun, Jannie jnr., het Saterdagoggend aan Maroela Media bevestig sy pa is Vrydagaand net voor 20:00 oorlede. Du Plessis (64) se linkernier is vroeër suksesvol verwyder. Hy was Donderdagaand egter nog kritiek.

Die egpaar is Sondagoggend, 6 Januarie, omstreeks 04:00 by hul plaashuis aangeval.

Villiers-boer sterf ná plaasaanval

Slegs ure later nóg ’n Vrystaat plaasaanval


SLEGS ure nadat ’n bejaarde egpaar van Parys se lyke in hul plaas-snoepwinkel gevind is waar hulle wreed vermoor is, is ’n vrou van die Kroonstad-distrik gister in die vroeë oggendure met ’n knopkierie buite haar plaashuis oor die kop geslaan.

Slegs ure later nóg ’n Vrystaat plaasaanval

Malani Pitout is gister in die vroeë oggendure met ’n knopkierie oor die kop geslaan op die plaas Malana in die distrik Kroonstad. Sy het knoppe en kneusplekke opgedoen.

Intussen is ’n 30-jarige man en 46-jarige vrou gister in hegtenis geneem weens die wrede moord op Ernst (75) en Annetjie van Rooyen (74) van die plaas Somerset.

Die man is ’n eertydse werknemer van die Van Rooyens, het konst. Peter Kareli, polisiewoordvoerder, gesê.

’n Samsung-selfoon en kruideniersware wat aan die egpaar behoort het, is in hul besit gevind.

Skerp reaksie en veroordeling is uit verskeie oorde ontvang weens die vlaag plaasaanvalle wat die afgelope maand in die Noord-Vrystaat plaasgevind het.

Die aanvaller wat Malani Pitout (48) van die plaas Malana by Kroonstad met ’n knopkierie geslaan het, het haar op haar Sotho-naam aangespreek en sy meen hulle het presies geweet wie sy is.

“Hulle het lank gewag. ’n Mens kon die spore sien waar hulle heel moontlik van die vorige middag af al in die skaapkraal weggekruip het. Ek dink die diefwering is voor die tyd al afgesaag sodat hulle later kon inklim. Hulle het seker nie gedink daar gaan iemand by my in die huis wees nie. Gewoonlik is ek alleen,” sê Pitout (48).

Sy sê as haar verloofde, Diederick Reinecke, nie die aand daar was nie, is sy sekerlik dood in haar huis aangetref.

Sy het knoppe op haar kop en bloukolle opgedoen, en is gekneus en seer, maar “is verder eintlik heel oukei.”

Reinecke het ook kneus- en skaafplekke opgedoen in ’n stoeiery met die aanvallers.

Pitout sê haar honde het die Dinsdag omstreeks 23:00 erg geblaf. Later, om 01:00 die oggend, het die honde weer geblaf. Reine-cke het gaan ondersoek instel en twee onbekende mans in die badkamer aangetref.

“Hy het die deur toegedruk en vir my geskree ek moet hardloop. Toe ek by die slaapkamerdeur uithardloop, sien ek hulle druk die deur van die badkamer oop en stoei met Diederick. Ek het na my broer se huis begin hardloop. Toe ek so 50m ver is, het een wat buite was, my met ’n knopkierie oor die kop geslaan. Toe val ek. Hy het my nog geslaan en geskop. Hy het my aan my nagklere se kraag gesleep en vir my in Sotho gesê ek moet saamkom.

“Hy het vir my gesê: ‘Thula, Masabata, thula.’ Dit is my Sotho-naam, so hy het presies geweet wie ek is,” sê Pitout. Sy kon egter daarin slaag om los te ruk.

Haar gille het haar broer, Nico Lategan, wat sowat 150m weg in ’n ander huis woon, wakker gemaak. Hy het ’n skoot geskiet en die aanvallers het gevlug.

“Die plaaswag en boere was binne minute op die toneel. Hulle het die aanvallers naby een van die koppies in die omgewing gesien, maar hulle het weggekom,” sê Pitout.

Die polisie het die voorval bevestig en gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie.

‘Net die doodstraf sal help’

VINGERS word uit verskeie oorde na die regering gewys oor sy oënskynlike onwilligheid om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad te verklaar.

Ongeveer ’n honderd Suid-Afrikaners wie se lewe deur plaasaanvalle verwoes is, se stories gaan vandag in Pretoria aan die minister van polisie, Nathi Mthethwa, oorhandig word, sê AfriForum.

Die slagoffers gaan van die minister eis om sy stilswye te verbreek deur plaasmoorde tot ’n prioriteitsmisdaad te verklaar, sê die organisasie.

Nóg ’n plaasaanval in die vroeë oggendure gister op ’n vrou in die distrik Kroonstad bring die getal plaasaanvalle in die Noord-Vrystaat vanaf die begin van Desember op ses te staan.

Die DA-LP vir die Fezile Dabi-distrik en die party se adjunkwoordvoerder oor staatsveiligheid, Theo Coetzee, sê: “Alleen die herinstelling van die doodstraf kan die hoë misdaadsyfer, waarvan plaasmoorde, moorde, aanvalle, verkragtings en molestering van vroue en kinders die grootste gedeelte uitmaak, bekamp.

“Al beteken dit dat ons nou moet aandring op ’n referendum hieroor.”

Hy het, soos verskeie ander belanghebbendes skerp gereageer op die dubbele plaasmoord op ’n bejaarde egpaar van Parys, asook etlike ander plaasaanvalle wat die afgelope maand voorgekom het in die Noord-Vrystaat.

Ernst (75) en Annetjie van Rooyen (74) is Dinsdagoggend in die snoepwinkel wat hulle op die plaas Somerset by Parys bedryf het, dood gevind.

Coetzee sê die aanvalle en moorde die afgelope tyd in die distrik bedreig die land se veiligheid en versoening.

“Die DA kan hom nie daarmee versoen dat die minister van polisie weier om plaasmoorde en aanvalle te klassifiseer as prioriteitsmisdade nie.

“Nog ’n probleem is die minister van staatsveiligheid, Siyabonga Cwele, se laksheid om betrokke te raak.”

Bertus van der Westhuizen, Vrystaatse veiligheidsverteenwoordiger van TLU-SA, sê hulle het met skok en afgryse verneem van die moord op die Van Rooyen-egpaar.

“Ons wil ons ernstige kommer uitspreek oor die skynbare toename in plaasvoorvalle die afgelope maand in die Noord-Vrystaat.”

Van der Westhuizen sê bekommerde en woedende boere het hom ná die Van Rooyens se moord gekontak en hul misnoeë duidelik en onomwonde uitgespreek oor die veiligheidsituasie op plase.

“TLU-SA-Vrystaat betreur die feit dat die landbousektor van die Suid-Afrikaanse ekonomie onder hierdie onveilige en ongunstige omstandighede moet funksioneer.”

Hy moedig boere aan om groter beheer oor hul eie veiligheid te neem deur by georganiseerde landbou in te skakel en so deel te word van hul plaaslike veiligheidstrukture.

“Indien daar nie strukture in plek is nie, moet boere leiding neem en strukture in plek kry,” sê Van der Westhuizen.

Boere moet hul marnetradio’s afstof en weer in werking kry, want kommunikasie is baie belangrik,” sê hy.

Carina Serfontein, DA-raadslid vir die Ngwathe-munisipaliteit, sê dit is onaanvaarbaar dat bejaardes as sagte teikens beskou word.

“Aanvalle soos hierdie dui op ’n verval van moraliteit in ons samelewing. Nie te lank terug nie het pres. Jacob Zuma ’n oproep gedoen om morele herlewing in Suid-Afrika.

“Solank die owerhede nie die veiligheid van ons burgers kan verseker nie, sal moraliteit verder agteruitgaan en aanvalle soortgelyk aan hierdie aanhou plaasvind.”

Die VF+ het die Van Rooyen-moord ten sterkste veroordeel.

“Wat opvallend is, is dat in vier van die ses gevalle die slagoffers ouer as 60 jaar was. Dit dui op ’n lafhartigheid van aanvallers om bejaardes te teiken.

“Hierdie vlaag van plaasmoorde in die Noord-Vrystaat is totaal onaanvaarbaar en elke plaasmoord is een te veel,” sê Abrie Oosthuizen, die Vrystaatse leier van die VF+.

Hy sê die minister van polisie, die premier van die Vrystaat en die Vrystaatse LUR van polisie se swye oor plaasmoorde, maak die regering aandadig aan plaasaanvalle.

Deur Marlene Jordaan

Slegs ure later nóg ’n VS-plaasaanval